MY BUURVROU SE 2020 KERSFEES

Op 1 Desember om 02:00 toe ek die nuwe babatjie voed word ek helder en duidelik herinner aan Kersfees. My buurvrou het haar Kersliggies aangesit en van daardie oomblik af was die ruimtemanne wat Kersfees in die internasionale ruimtestasie moet deurbring, se dae ook bietjie helderder, want my buurvrou ken nie van minimalisme nie. My buurvrou (en haar Kersliggies) is die letterlike vervulling van die spreekwoord: Die lig in jou lewe. My buurvrou gaan groot, groot muur van Sjina tipe groot en sy maak seker dat hulle haar liggies nes daai muur vanuit die ruimte kan sien. Haar liggies maak die lewe soveel helderder en veiliger dat gedurende die nagte geen skelm dit sal waag om in te breek nie, want hulle sal blind wegstap van daardie rooftog af. My buurvrou se liggies verblind hulle oë soos ‘n BMW bestuurder met lasar hooflighte wat die res van die samelewing sonder visie los as hulle teen 180km in ‘n 120km zone jaag tot by hulle volgende Kersfunksie. My buurvrou is ‘n vrou wat ken van feesvier en nes haar liggies skyn haar persoonlikheid liefde en lig in ons almal se lewens in.

My buurvrou hou ook van persente gee, baie persente, grotes en kleintjies, almal noukeurig toegedraai in boksies en mandjies en botteltjies en alles waarin mens iets kan stoor. Jy sien, want my buurvrou ken nie van minimalisme nie, haar hart is te groot daarvoor en haar geskenkpapierverskaffer het seker ‘n uitverkoping gehad want sy moes die jaar die geskenskies met ‘n kruiwa oorstoot na ons huis toe sodat die kleintjies net “ietsie” kan geniet die Kersfees. Die 2020 Kersfees, van hierdie aaklige gogga jaar soos sy dit noem, waar die bloedjies soos gemaskerde beroepskriminele moes rondhardloop in die skole en selfs op die strande. Sy het natuurlik ook seker gemaak hulle het elkeen ‘n nuwe handgemaakte masker vir Kersfees sodat hulle stoutighede professioneel kan lyk… en ‘n flitsliggie (net vir in geval Eskom ons “loadshed”). As Eskom dalk nodig het om krag te spaar kan hulle maar net my buurvrou se krag afsny en die hele Johannesburg sal tot na die einde van die feestyd genoeg krag hȇ. Maar my buurvrou se hart is groter as ‘n “Taxi” en haar kruiwa staan gereed vir Takealot se mense wat net nog ietsie kleins kom aflaai.

My buurvrou hou ook van bak en brou en haar hande staan vir niks verkeerd nie: Ek glo sy is persoonlik verantwoordelik vir Kersvader se gewigsprobleem, want haar koekies is lekkerder as lekker en haar “Taxi” hart maak seker almal in die buurt het ietsie om aan te smul oor Kersfees. Wanneer sy eers emmers met koekies (toegedraai in omtrent 1 kg geskenkpapier elk kompleet met strikkies en ja, jy het reg geraai, flikkerende liggies met batterye wat onder die emmertjies weggesteek is en ‘n waarskuwing moet dra vir epilepsielyers), op haar kruiwa laai en in die straat begin afstap… dan wonder ek met die grootste liefde en ‘n glimlag op my gesig as ek na haar kyk, met haar heupe wat swaai soos ‘n skoppelmaai in daai bloedrooi Kersfees rokkie van haar… is die legende nie dalk verkeerd nie… is my buurvrou nie dalk Kersvader nie? Jy sien my buurvrou ken nie van minimalisme nie, want my buurvrou was ‘n boervrou voordat sy hier by ons aangeland het. My buurvrou was ‘n besigheidsvrou, ‘n werkende vrou wat vir almal gesorg het van vroegoggend toe die môresterre nog geskyn het en ‘n volksmoeder wat eers laataand in die bed gekruip het nadat die sterretjies hulle ogies weer oopgemaak het. Dit moet wees hoekom sy so lief is vir haar liggies wat soos sterretjies die straat ophelder.

My buurvrou ken vir Jesus, die rede waarom ons hierdie spesiale tyd onthou wat die Skepper vir ons opgegee het. My buurvrou sȇ geen liggie of versiering kan die helderheid van Jesus se troon, wat Hy vir ons moes verlaat het, vervang nie en sy weet haar man sit aan Sy voete, maar sy wil tog net hȇ hy moet weet, sy sal hom en hulle plaas nooit vergeet nie. My buuvrou ken van smart, die donkerste smart waar die son en sterre verduister en jou lewe en liefdes onder jou weggeskeur word as die beroepskriminele hulle haat kom saai op jou plaas. Net so ken by buurvrou die Bethlehemster van Jesus en daarom is haar hart, haar huis en haar hele wese so verlig. Omdat sy Hom ken is daar geen haat, geen kwaad en geen donkerte in haar nie.  Ek kyk na my buurvrou en bid ek sal eendag ‘n Ma soos sy kan wees, iemand wat steeds vroegoggend opstaan om vir die kindertjies by die drie verskillende welsynsorganisasies wat sy opgespoor het vandat sy hier by ons is, geskenkies te neem. Geskenkies toegedraai in kilometers geskenkpapier met liggies en koekies en liefde wat hulle nooit tevore ervaar het nie. My buurvrou ken die donkerste Kersfees van twee jaar gelede toe haar lewe een nag in ‘n nagmerrie verander het. My buurvrou ken die Skepper van die sterre en daarom is die toonbeeld van Jesus:  Na alles wat sy deurgemaak het is daar geen greintjie van enige haat in haar wese nie en Sy dra Jesus se lig uit na almal wat oor haar pad kom.

My buurvrou is die Ma en vrou wie ek graag wil wees. ‘n Vrou vol gee, vol liefde en vergifnis. ‘n Vrou wat weet die liefde bedek  baie sondes soos 1 Petrus 3:8 ons leer. ‘n Vrou wat weet ons tyd met ons klein mensies is geleen en God het ons gekies om hulle te vorm en lief te hȇ. ‘n Vrou soos die een waarna die Bybel verwys in Spreuke 31:29: “Daar is baie knap vroue, maar jy is die beste van almal!” My buurvrou herinner my weereens dat niks by God onmoontlik is nie en dat Sy liefde ons verstand te bowe gaan. Al is Kersfees 2020 vir jou anders, dalk met minder geskenkies weens werksverlies, of sonder iemand vir wie jy baie mis weens ‘n aaklige gogga of sommer net alleen weg van jou mensies weens konsternasie bekamping… onthou my buurvrou en weet as jou hart by Jesus is, is jou Kersfees 2020 die beste een ooit!

Published by MAHETGEPRAAT

'n Plekkie vir Afrikaanse Mammas om saam te lag, deel en te geniet oor die wonderlike seën van Ma-wees. Niks behalwe die praktiese ervaring kan jou voorberei vir hierdie posisie wat jou 365 dae 'n jaar, 24 uur per dag besig hou sonder betaling, vakansies of 'n koffiebreuk nie :-) Hierdie boodskap is vir elke Mamma in die oë van haar kinders: “Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal!” Spreuke 31:29

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: